Minggu, 31 Mei 2015
OV STOGK
storm van God se ewige oordeel... Daar is geen menslike oplossing vir die donker wolk van sonde nie.
Tog probeer die mens in sy dwaasheid juis dit doen met allerhande
saamgeflanste beteuterde poginkies. Kom ons kyk na ‘n paar. Ons probeer
dit :
Vergeet : Ek probeer my sondebewustheid afskud en nie daaraan
dink nie. Sommige dink dalk dat hulle dit goed regkry, maar God
vergeet nie onvergeefde sonde nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van
afrekening wees waartydens alle sonde, ook die diep verborge sonde, aan
die lig sal kom.
Versag : Ek probeer my sondes met allerhande eufemismes en
trooswoordjies “kleiner en sagter” maak. Ek het nie die sinkplate by die
myn gesteel nie, ek het dit net gescore; Ek was nie dronk nie, ek het
net bietjie te veel gekuier, Ek hoereer nie,( dit klink darem te erg),
ek knyp net die kat in die donker!
Verskuif : Ek blameer my moeilike ouers, ongenaakbare eggenoot, onregverdige baas, opstandige werkers “wat my siel hel toe sleep...”
Vergoed : Ek probeer vergoed vir my slegte dade deur dit met
goeies uit te kanselleer. deur godsdiens en goeie dade. (As ek ‘n slag
in kerk was, voel ek bietjie beter al het ek aan Saterdag se
rugbywedstryd gedink tydens die preek...) Ek probeer beter voel deur
meer te bid, meer Bybel te lees...Maar helaas, my sondeskuld agtervolg
my soos ’n skaduwee.
Verminder : ek werk daaraan om my sonde bietjie te beskaaf en te
beteuel. Ek probeer darem om ’n Christen te wees, ek het miskien al
met ’n paar lelike dinge opgehou. Dis ‘n futiele oefening!
Kan jy iets aan ’n dreigende onweerswolk doen, kan jy met jou kaal hande ’n haelstorm keer?
Nee, ons is magteloos. Ons is magteloos ten opsigte van ons sondeskuld en die oordele van God wat dit op ons gaan afbring!
God is egter nie magteloos nie. Dit bring ons by die tweede punt:
2) God se hantering van ons sonde. Ons kan niks effektief omtrent hierdie donker dreigende sondewolk doen nie, MAAR GOD KAN. God het. Hy het dit uitgedelg.
God sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis...” Hoor ons
dit, God verlustig Homself in hierdie kragtige uitspraak. Ek het dit
gedoen in genade, ek het dit gedoen in medelye, ek het dit gedoen in
regverdigheid, ek het dit gedoen in liefde, ek het dit gedoen net omdat
ek wou , omdat ek God is, terwille van my eer. God doen dit want Hy is
getrou aan Homself en sy beloftes. God is die een wat genade bewys en
verlossing bewerk - vanaf Genesis toe Hy in sy goedheid vir Adam en Eva
klere van vel gemaak en die moederbelofte gee het...Dwarsdeur die
geskiedenis sien ons God se genade, maar een toneel staan bo alles uit. Golgota. Die kruis. Jesaja 53 verduidelik so goed wat daar gebeur het...**
God se uitwissing van ons sonde is totaal en volkome –“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.”
(Jesaja 43:25) Vergelyk ook Jeremia 31:33,34. Hoeveel sonde en
simptome van sonde is daar nie by ons aanwesig nie - sondes van die
liggaam, die oog , die oor, growwe openbare sondes, geheime weggesteekte
sondes (maar net so aaklig), sondes van die gedagtes, en verbeelding,
sondes by die huis, die skool , die werk , hier by die kerk...
Herhaalde sondes, opsetlike sondes, twyfel, laster, direkte sondes teen
God, sondes teen jou medemens, teen jouself, noem maar op ... God laat geen kategorie uit nie – Hy het alles uitgedelg. Weereens, waar en wanneer het God ons sondes uitgewis, uitgedelg? Dit het by die kruis gebeur. “En
julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle
vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade
vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons
vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te
nael,” ( Kol 2:13,14) Op Golgota is ons sondeskuld, hierdie
sondeskuld wat verdoemend teen ons getuig, finaal en volledig uitgewis!
Ja, jy onthou dit nog miskien, ander mense onthou dit, sommige sondes
laat lewenslange letsels na - maar daar waar dit saakmaak - in die
gedagtes van God - is dit uitgewis. God se uitwissing van sonde, God se vergifnis van sonde is iets buitengewoon wonderbaar en finaal!
“Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié
wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon
liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U
sal al hulle sondes in die diepsee gooi. “ (Miga 7:18,19) Ja, Hy het
ons sondes in die diepte van die see gewerp! (en onthou : visvang is
verbode)
3) Ons gepaste reaksie op God se genadedaad. God verwag geen
teenprestasie nie. Genade is genade. Dit word nie verdien nie, dit kan
nie verdien word nie, dit benodig geen aanvulling nie. Dis ’n geskenk.
’n Mens betaal of werk nie vir ’n geskenk nie, maar ’n geskenk lok wel
reaksie uit. Dis mos so....Watse reaksie is hier gepas? Watse reaksie
verwag God van ons noudat ons gehoor het, dat Hy ons sondeskuld uitgewis
het? God sê vir sy volk : “Kom terug na My toe, want Ek het jou
verlos...” Wie die Goeie Nuus van die verlossingsdaad op Golgota werklik
glo draai om van die ou pad en aanvaar dit met dankbaarheid... Die Goeie Nuus van die uitwissing van ons sondes laat elkeen wat dit glo in sy spore omdraai.
Mense wat ongesteurd voortgaan, wys dat hulle God se genade verwerp
het, dat hulle die boodskap van die kruis minag. Hulle sal die gevolge
moet dra.
Soos jy hier lees val jy in een van twee groepe en in elke geval is hier vir jou ‘n kragtige boodskap:
~ Jy het nog nooit die Goeie Nuus (evangelie) werklik geglo nie.
Miskien is jy baie godsdienstig, maar jy het nog nooit in dankbaarheid
die evangelie aanvaar nie. By jou wil ek spesiaal pleit : Sien raak
die werklikheid en feit van jou sonde, maar hoor dan die Goeie Nuus!
“Ek het dit uitgewis...” Kom vandag, NOU na Jesus toe. Aanvaar in die
geloof wat Hy reeds lankal gedoen het. As jy Hom aanvaar het, kan jy
verseker weet ook jou sondes persoonlik is vir eens en altyd uitgewis.
~ Jy het hierdie boodskap lank reeds aanvaar en geglo. Tog kom daar twyfel by jou op
as jou gedagtes begin rondhardloop : “Wat van hierdie vreeslike ding,
wat van daardie sonde waarin ek herhaaldelik geval het, wat van my
daaglikse mislukkings...?” Geliefde kind van God, hoor gelowig wat sê
God. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” Vat God op sy
Woord, want Hy is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie. As Hy sê : “Ek het
jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” dan bedoel Hy dit. Laat sy
Woord vir jou genoeg wees en los al die “maars”. Sy Woord tel meer as
ons gewete, ons mislukkings of ander se opinie. Mag hierdie kragtige
uitspraak van God rus, vrede, sekerheid en blydskap in jou hart bring. Bedink
dit en Bêre dit in jou hart! Vier dit in die Nagmaal. Dis 'n feit so
seker as die brood en wyn wat jy voor jou oë sien en met jou mond proe!
*In Psalm 51:6 bely Dawid : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.”
**"Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het
daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom."
[Met erkenning aan Donald MacDonald, CHRISTIAN EXPERIENCE, hoofstuk 5]
Langganan:
Posting Komentar (Atom)




Tidak ada komentar:
Posting Komentar